Ons het sopas teruggekom van die Septermber uitreik! Als het uitstekend verloop, geen teespoed op die pad nie, niemand ernstig beseer nie en als was redelik awesome gewees. Hier volg 'n paar updates vir die mense wat lanklaas daar was:
- Die gryspad van Phuduhudu af is klaar en loop tot in Inalegolo.
- Die skoolhoof Willemina het pensioen gevat en ons bid vir 'n nuwe skoolhoof wat ons goedgesind sal wees!
- Die proses om die grond oor te plaas van die Lutherse Kerk na die N.G. Kerk het toe nooit deurgegaan nie! Die Lutherse kerk is dus terug en wil graag daar werk. Mnr. Tsela, een van die plaaslike mans, is deur hulle aangestel as leier om die gemeente te bedien. Ons probeer dus om so veel moontlik met hulle saam te werk.
Net bietjie agtergrond oor Phuduhudu. Die hoofman, Kgosi Phori, het 'n hele paar jaar terug gevra dat ons 'n kerk daar sal bou en die werk wat ons in Inalegolo doen daar ook sal doen. Na onderhandelings is die proses egter gekniehalter en het ons niks meer van hulle gehoor nie. In Maart 2008 het ons 'n uitreik Phuduhudu toe onderneem. Ons was in Inalegolo gestationeer maar het elke dag ingery en selfs twee aande oorgeslaap en die Jesus Film gewys. In die tyd het ons goeie kontakte opgebou en die goedgesindheid van die Kgosi bewerkstellig.
Nou in Septermber het ons een oggend die pad Phuduhudu toe gevat. Ons eerste plan was om die Kgosi op te spoor en toestemming te vra om in die gemeenskap rond te beweeg en opelug uitreike te hou. Toe ons langs die winkeltjie stilhou om te bene te rek en te bid vir die pad vorentoe stop 'n bakkie langs ons. Tot ons verbasing is dit niemand anders as die Kgosi self nie. Hy het ons onmiddellik ontvang en selfs toestemming te gee om die Kgotla te gebruik. Ons het aangery na die Kgotla en is dadelik deur Rre Segwagwa ontvang wat die voorsitter van Phuduhudu se VDC is. In Phuduhudu sowel as in Inalegolo was die VDC besig met 'n gemeenskapsprojek 'operation draught'. Hiervoor is plaaslike mense ingespan om bossies uit te trek, bome te kap en derglike dinge te doen vir 'n P400 loon per maand. Rre Segwagwa het ons dadelik genooi om ons eerste uitreik sommer by die klomp mense hou wat besig was met die projek. Hy het ons ook genooi na die ander groep wat 'n end verder by 'n begrafplaas besig was. Ons het ons sketsbord opgeslaan en 'n opelug uitreik gehou. Met die oproep aan die einde het al 29 mense vorentoe gekom en gese hulle wil 'n stap neem om hulle lewens vir die Here te gee! Ons het saam met hulle gebid en aanbeweeg na die begrafplaas en dieselfde ervaring gehad. Ons het net weer besef dat die oes ryp is maar die arbeiders min! Van daar is ons na die skool en het ons kennis gemaak met die nuwe skoolhoof van Phuduhudu Mma Mothibamela. Sy het met ons gedeel dat sy 'n wedergebore kind van die Here is en dat sy al lank al wag vir 'n groep soos ons om daar te begin werk onder die kinders.
Woensdag is ons na Kokong toe. Ons voornemens was, soos met Phuduhudu, om eerstens die hoofman te ontmoet en dan verder te kyk. Ons het langs oom Lukas se bottelstoor gestop om te bid en te vra dat die regte mense ons sal ontmoet. Toe ons klaar gebid het stap daar 'n groepie jong mans verby wat ons in die rigting van die Kgotla kon wys. Toe ons langs die Kgotla stop kom een van die Kgosana's, Rre Pitso, uitgestap en nooi ons in. Ek en Mma Kgomotso het binnegegaan en die Kgotla in sitting beleef. Die hoofman Kgosi Moalafi en sy vier Kgosana's was ge-suit en ge-tie en het gesit asof hulle net vir ons wag. Ons saak is gestel dat ons nie daar is om nog 'n kerk te stig nie maar liewer met die mense (en die kerke) wil saamwerk. Die Kgotla was uiters ten gunste van die idee en het ons onmiddellik begin rondwys. Hulle het ons eerste na die Lutherse kerk geneem. Ons het die sleutel by die bakkery gekry en die Kgosana het sommer dadelik vir ons toestemming gekry om die Kerkgebou te mag gebruik as ons daar is. Die gebou is basies 'n groot saal met bankies in en kleurvolle prente teen die muur. Van daar is ons na die skool waar ons die Adjunkhoof, Mma Sebatana ontmoet het. Sy was so opgewonde oor die idee dat sy van die ander onderwysers geroep het om met hulle ook te deel. Ons het die dag ongelukkig nie kans gehad om 'n uitreik te hou nie weens die mense se gretigheid om ons rond te wys.
Die heeltyd terwyl ons daar was het ek geworstel met die idee: waar gaan ons die mense kry om die werk te doen! Ek moes met elke uitnodiging benadruk dat ons geensins beloftes maak om te kom of 'n vaste datum kan verskaf nie. Die feit bly egter staan dat die mense se harte oop is en die evangelie daar wil he! Die verdere werklikheid dat al die regte mense oor ons pad gestuur is sê vir my dat ons 'n rol het om te speel! Hoe ons vorentoe gaan werk bly egter 'n gebedsaak en ons vertrou dat God ons sal wys en dat hy die Arbeiders sal voorsien!
By Inalegolo self het dinge aangegaan soos gewoonlik. Ons kinderprogram was gefokus daarop om Jesus 'n integrale deel van hulle lewens te maak. Die week se program is rondom Rom 12 gebou en ons het uitgewys hoe die 'wesenlike van die godsdiens' wat God van ons verwag is om onsself vir hom te gee as lewende offers wat vir hom aanneemlik is. Dit beteken dus dat God eerstens wil hê dat jy jouself vir hom moet wees! Hierdie boodskap kom in kontras met die idee dat ons 'n westerse godsdiens op die mense wil afdwing wat min/geen toepaslikheid op hulle lewens het nie. Inteendeel het ons probeer kyk hoe God in hulle konteks gedien en geken kan word (godsdiens). Ons het dus gekyk na hoe hulle God kan ontmoet en hoe hulle God kan dien. Ons het probeer wegbly van die tradisionele Kerk toe kom, Bybel lees en bid idee af (nie geignoreer nie... net minder daaropo gefokus). Ons het hulle aandag probeer vestig op die natuur en om God te eer deur hom as skepper te dien en oor die natuur te heers as God se verteenwoordigers. Verder het ons uitgewys hoe God gedien word as ons mekaar dien. Donderdag oggend is daar geleendheid gegee om hulleself vir God te gee (indien hulle dit nog nie gedoen het nie). Die reaksie en opkoms was baie goed, soos gewoonlik, gewees... die vraag bly egter: Waarheen van hier af?
In die volwasse dienste het ons probeer om bietjie meer as gewoonlik saam te werk met die plaaslike leiers. Ons het dus vir Joseph Borokgwe en kie kans gegee om van die dienste tydens die week te lei. Almal was verras en bemoedig deur Rre Borokgwe se preek uit Numerie van alle boeke! Ons is net weer aangemoedig om vir die leiers op Inalegolo te bid. Ons besef ook dat ons betrokkenheid mettertyd sal moet verskuif van voorsiener na ondersteuner!
Ons loof die Here vir nog 'n wonderlike uitreik en die deure wat vir Sy koninkryk oopgegaan het! Ek wil almal uitdaag om saam met ons te bid vir Inalegolo, Moruti Johannes, die leiers van die gemeenskap, die omringende gebiede, en ons rol en betrokkenheid vorentoe!
Pula!!!
No comments:
Post a Comment